• Tuisblad
  • Seminare
  • Werkswinkels
  • Motiverings Praatjies
  • Afrigting Meta-coaching
  • Terugvoer van vorige seminare
  • Kontak my

 

 

Eerstens wil ek al die eer aan ons Hemelse Vader gee, omdat Hy vir my die geleentheid ‘n werklikheid gemaak het om my droom te kan leef.  My hartsbegeerte is om elke vrou met wie ek in aanraking kom in staat te stel om haar volle potensiaal in Christus te besef, om dit van Hom te aanvaar, en om haar droom te leef.  Ons leef in ‘n “kits”-wêreld – kits kos, kits gras, kits persoonlike ontwikkeling – met die gevolg dat ons vroue meer en vinniger moet vermag in al die areas van ons lewe. 

 

Die uitdaging is dat ons weet dat ons alles kan doen deur Christus wat vir ons krag gee (Fil 4:13), en ons gee 100% vir ons beroep, jaag na die naskoolse aktiwiteite wanneer moontlik om ons kinders te ondersteun, help met al die inligting wat nodig is vir die skooltake wat gedoen moet word, doen ons bes om gebalanseerde en gesonde maaltye vir ons gesin voor te sit, en dan probeer ons nog om die nodige ondersteuning aan ons geliefdes te gee wanneer hulle tuiskom na ‘n stresvolle dag.


My vraag aan jou is:  Besef jy dat jy wonderwerke vermag elke dag van jou lewe?  Gee jy jouself die krediet daarvoor?  Of voel jy die heeltyd skuldig omdat jy nie meer tyd aan ‘n belangrike taak kon spandeer nie, omdat jy een van die geleenthede by die skool nie kon bywoon nie, of omdat jy nie al die energie gehad het om die liefdevolle en versorgende vrou te wees wat jy so graag wil wees nie?


Verlang jy na die dag wat jy al jou verantwoordelikhede sal nakom, en steeds opgewonde oor die lewe sal kan voel totdat jy bed toe kan gaan, en om dan verfris wakker te word en entoesiasties te wees oor die dag wat kom?

 

Deur:
Susan Grobler

 


God het ons vroue baie spesiaal geskape.  Hy het ons uit die rib van Adam geskape, om hom te kan help om sy beste te wees, sodat ons ook ons beste kan wees.  Die hartseer deel is dat ons verby die wonderwerke in ons eie lewens kyk, ons is te besig om dankbaar te wees vir die klein dingetjies wat ons wel gedoen kry en die geringe seëninge in ons lewens, sodat ons nooit leer om die groter  seëninge te herken wat daagliks verby ons lewe skuif nie.


Die wêreld kondisioneer ons so om besig te wees, om altyd harder te moet probeer in al die areas van ons lewens dat ons begin glo dat ons nie goed genoeg is in een of al die fasette van ons lewe nie.  Dit is die leun wat ons verhoed om ons drome te leef.   Die Here gee in Hebr 13:5 vir ons die belofte dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie, wanneer ons na die beste van ons vermoë volgens Sy wil en Woord probeer lewe, wil Hy graag vir ons die moed, durf en energie gee om ons drome te leef, en sodoende vir Hom ‘n dissipel in hierdie wêreld te wees.


Dit is my hartsbegeerte om jou te help om jou identiteit in Christus te besef, te aanvaar, die seëninge in jou lewe sigbaar te maak sodat jy jou lewensdroom kan identifiseer en kan leef.  Ek wil jou help om al die menings wat jy oor jouself en oor die lewe het, wat jou verhoed om die spesiale vrou te wees wat God jou gemaak het om te wees, uit die weg te ruim.


Ek het nie al die antwoorde nie, ek glo wel dat God die antwoorde aan jou sal openbaar.  Ek sal jou fasiliteerder wees sodat jy sal besef wat jou hartsbegeerte is, en wat jou verhoed om jou droom te leef.

 

 

 


kopiereg (c) 2010. Borrelvrou.co.za en alis.co.za. Alle regte voorbehou! Hierdie web is met trots gemaak deur alis design house